die ander konsert stoepDie Ander Konsert

Met Pietman Geldenhuys, Ronan Skillen, Schalk Joubert, Luna Paige, Mavis Vermaak, Nick Turner, Frieda van den Heever en Gerald Clark

Ses meesleurende stemme, 2 kletsende klaviere, 3 kitare, ‘n wêreldklas baskitaarspeler en ‘n Engelsman wat uitheemse tromme speel. Al hierdie musikante kom op die verhoog bymekaar om liedjies en stories uit te ruil. Daar is iets vir almal! Staande ovasies en wonderlike resensies by Woordfees en KKNK 2015. ‘n Moet sien! Met Peter Mitchell, Frieda van den Heever, Mavis Vermaak, Nick Turner, Gerald Clark, Luna Paige, Schalk Joubert en Ronan Skillen.

Die Ander Konsert het sy debuut gemaak by die Woordfees en KKNK 2015. Gehore was gaande oor die musiekproduksie en het groot opslae gemaak onder musiek kritikuste. Al die rolspelers in die musiekproduksie is musikante wat hul bestaan op anderse maniere in die vermaaklikheidsbedryf maak. Luna Paige, eienares van Iluminar Produksies, is liedjieskrywer, sangeres en vervaardiger. Pietman Geldenhuys is komediant, MC, akteur, liedjieskrywer en sanger. Frieda van den Heever is stemkunstenaar, aktrise, liedjieskrywer en sangeres. Nick Turner is kitaarspeler, liedjieskrywer, musiek onderwyser en gemeenskapswerker. Mavis Vermaak is kopieskrywer, digter, visuele kunstenaar en sangeres. Gerald Clark is ‘n blues man, liedjieskrywer en sanger. Schalk Joubert vervaardig, komponeer en skryf filmmusiek. Ronan Skillen speel perkussie en is lid van wêreldmusiek orkeste dwarsoor die wêreld.

Al die kunstenaars het bymekaargekom en het ingestem om iets unieks in Afrikaans te doen – ‘n versameling van oorpronklike liedjies, sowel as unieke interpretasies en weergawes van liedjieskrywers se werke wie hulle admireer. Voorbeelde hiervan is onder andere tradisionele Kaapse volksliedjies en liedere deur Valiant Swart, Anton Goosen, Laurika Rauch en Amanda Strydom. Met hierdie produksie slaag die musikante daarin om uit te lig hoe veelsydig en divers Afrikaanse musiek kan wees.

Die Ander Konsert word aangebied deur anderse musikante, wat woeker in anderse professies en anderse liedjies skryf en speel. Die uiteinde: ‘n Anderse Ervaring.

RESENSIES

“Wat ‘n gehoorlid die meeste van hierdie ‘konsert’ gaan onthou, is die absolute vreugde wat die lokaal gevul het. Wanneer die mense op die verhoog só geniet wat hulle doen, kan dit nie anders as om onsigbare towerstof op die gehoor te laat val nie”
(Mariana Malan, Die Burger, KKNK, April 2015).

“Kitaarwerk, klawerbord, perkussie, liriek en stem – elke lid van hierdie groep mense weet wat sy of hy doen, en doen dit dan met hart en siel…Mens kry Afrikaanse musiek en mens kry musiek in Afrikaans. Hierdie is laasgenoemde. Moet dit nie misloop nie”
(Madeleine Barnard, Krit, KKNK, April 2015).