Korreltjie Kantel

Met Luna Paige, Nick Turner, Jamie Jupiter, Wessel Pretorius en Christine Truter

Geredigeer deur Mareli Pretorius

André P Brink. Ingrid Jonker. Die liefdesbriewe. Die hartstog.

Dit is bekend dat ikoniese digteres Ingrid Jonker en skrywer André P Brink ‘n passievolle en verbode 2-jaar lange langafstand verhouding gehad het. Tussen 1963 en 1965 het die twee skrywers mekaar min gesien, maar amper daagliks vir mekaar briewe geskryf. Beide het ook wonderlike literêre werke in hierdie tyd geskryf, gepubliliseer en met mekaar gedeel.

In Korreltjie Kantel het vervaardiger Luna Paige hierdie liefdesbriewe en werke as inspirasie gebruik vir ‘n uitmuntende musiekteaterproduksie wat gaan oor verbode liefde en die verrukking van passie en onbekombare liefde. Drie musikante toonset en verwerk die gedigte van Jonker op ‘n unieke wyse en gebruik die liefdesbriewe en skrywe van Brink as inspirasie vir hul eie lirieke. So blaas Luna Paige, Nick Turner en Jamie Jupiter nuwe lewe in die 50-plus liefdesverhaal. Akteurs Wessel Pretorius en Christine Truter verrig ‘n uitmuntende taak wanneer hulle die twee skrywers uitbeeld. Die opwinding van die eerste ontmoeting, die beswymende invloed van hul passie, die teleurstellings, die woede, en die uiteindellike disintegrasie van die verhouding word met oorgawe uitgebeeld en laat die gehoor toe om hulself in die verhouding te verbeel of te onthou.

Korreltjie Kantel vier die ontsterflikheid van die liefde en kuns. Die CD is genomineer vir Beste Afrikaanse Kontemporêre CD by 2018 se Suid-Afrikaanse Musiek Toekennings (SAMA’s). Die musiekteaterstuk het speelvlakke gehad by Woordfees, KKNK, Kalfiefees, Afrikaanse Taalmaand, Aardklop Kunstefees, Vrystaat Kunstefees en verskeie teaters dwarsoor Suid-Afrika. In 2019 reis die produksiespan na Nederland en België. Dit sluit optredes in Ghent (België), Leiden, Delft, Amsterdam, Utrecht en Bemmel in. ‘n Fondsinsamelingsinisiatief sluit ook ‘n fantasiese groepuitstalling en -veiling in by name “Die Kind het ‘n Reus geword”.